Kos uit my Ouma se Kombuis
Kos uit my Ouma se Kombuis
My ouma het vir al haar kinders en kleinkinders resepteboeke saamgestel. My resepteboek het egter minder handgeskrewe resepte in as wat my ma en tannie sin het, maar dis resepte wat ek weet my ouma uitgetoets het, want sy het langsaan van hulle geskrywe “Baie lekker!!!”, “Lekker” en soms vir watter Kersete sy dit gemaak het.
Sy is op die ouderdom van 52 oorlede, nog so jonk. Ek het glad nie kans gehad om my passie vir kos met haar te deel en van haar af te leer nie, maar die boeke is ‘n stukkie van haar by my. Hierdie resepteboek is nie net ‘n versameling van kosidees nie, maar ‘n skatkis van herinneringe en ‘n verbinding met my ouma.

Ek het dit goedgedink om ‘n kosreeks te begin waar ek resepte uit haar boeke maak as ‘n tribute aan haar. Van die resepte is algemene goed soos ystervarkies en Jan Ellis-poeding, en ander is weer vreemde goed soos lekker-bek poeding of disse wat geen naam het en dalk onduidelike metodes bevat.
Hierdie resepte is baie na aan my hart. Hoewel van die disse “basic” is, is dit steeds heerlike disse wat met liefde en sorg gemaak is. Ek het dikwels my eie spin op die resepte gesit met ‘n iets ekstra hier en daar, maar die kern van die resepte bly ongeskonde, net soos my ouma dit gemaak het.
‘n Paar Van Ouma se Gunstelinge
- Souttert: ‘n Hartige tert wat vol geur is en perfek as bykos of ligte ete.
- Maaskaaskoek: ‘n Heerlike en romerige koek wat altyd ‘n treffer is.
- Piesangbrood: ‘n Sagte en klam brood wat perfek is vir ontbyt of as ‘n lekkerny.
- Kerrieboontjies: ‘n Pikante en smaakvolle bykos wat enige maaltyd komplimenteer.
Hierdie kosreeks is ‘n manier om my ouma se nalatenskap te eer en haar liefde vir kos met die wêreld te deel. Deur hierdie resepte te maak, voel ek ‘n bietjie nader aan haar en kan ek haar passie met ander deel. Ek hoop dat hierdie geregte vir jou net soveel vreugde en nostalgie sal bring soos wat dit vir my doen.
